Hallo Ma
En net so het Ma se eerste hemel-verjaarsdag gekom en gegaan. My kop het geweet Ma verjaar maar my hart wou nie toelaat dat ek te veel daaraan dink nie. Ek ontdek nou op my eie rype ouderdom dat daar beslis ‘n plekkie in my is waar seer gebêre word. Dit voel vir my asof hierdie plekkie se deur net so stuk-stuk oopgemaak word sodat ek nie my asem verloor nie. Ek sal nie verbaas wees as Ma die engel wat daardie deur se oop en toe beman, self ge-interview en aangestel het nie. Dankie daarvoor. Hier by ons het ons nog twee spesiale feesvieringe gehad op Ma se dag. Ma se jongste kleinkind het verloof geraak en Ma se tweede jongste agterkleinkind het haar vierde verjaarsdaggie gevier. As ek nie van beter geweet het nie, het ek gesweer Ma het dit so gereël. So het ek Ma my lewe lank geken, daar was nie ‘n berg wat te groot was om geskuif te word sodat ons hartseer met blessings verruil sou word nie. As dit wel Ma was, het dit gewerk. Ons kon lag en met sjampanje cheers, al’s is ok...