Hallo Ma

 

En net so het Ma se eerste hemel-verjaarsdag gekom en gegaan. My kop het geweet Ma verjaar maar my hart wou nie toelaat dat ek te veel daaraan dink nie. Ek ontdek nou op my eie rype ouderdom dat daar beslis ‘n plekkie in my is waar seer gebêre word. Dit voel vir my asof hierdie plekkie se deur net so stuk-stuk oopgemaak word sodat ek nie my asem verloor nie. Ek sal nie verbaas wees as Ma die engel wat daardie deur se oop en toe beman, self ge-interview en aangestel het nie. Dankie daarvoor.

Hier by ons het ons nog twee spesiale feesvieringe gehad op Ma se dag. Ma se jongste kleinkind het verloof geraak en Ma se tweede jongste agterkleinkind het haar vierde verjaarsdaggie gevier. As ek nie van beter geweet het nie, het ek gesweer Ma het dit so gereël. So het ek Ma my lewe lank geken, daar was nie ‘n berg wat te groot was om geskuif te word sodat ons hartseer met blessings verruil sou word nie. As dit wel Ma was, het dit gewerk. Ons kon lag en met sjampanje cheers, al’s is ok. Ma hoef nie te worry nie.

Ons het Pa se goedjies toe geskuif na sy nuwe plekkie toe en hy is ok. Ook oor hom hoef Ma nie te worry nie, Ma weet mos ons sal bly mooi kyk na hom. Met die oppak het ons van Ma se handgeskrewe reseppies en nog so ‘n paar hartsgoedjies ontdek. Daai engel moes oortyd werk. Hy maak wel die deurtjie so stuk-stuk oop na daai dag en die seer skiet so elke nou en dan van die seerplek af op. Ek moet nog uitfigure hoe beheer mens jou oë, want lyk my trane se deur maak nie lekker toe nie.

Ons mis Ma so oneindig baie. 

Daar is nog soveel wat ek vir Ma wil vertel maar ek dink ek moet dit maar so stuk stuk doen. Elke keer as ek by Ma se kamer by Frailcare verbystap se ek ‘Hallo Ma’ in my kop. Ek hoop Ma hoor my.

Ma se pienk voorskootjie het nou ‘n nuwe plek in my kombuis gekry na pa se trek. Die kos vlekkies wat Ma nie kon uitkry nie, is nou kosbaarder as kosbaar vir ons. Elke een ‘n herinnering aan die ure wat Ma agter die stoof deurgebring het om ons almal te voer. Dit was Ma se gelukkigste plek en ook Ma se mees geseënde taak - om ons almal om Ma se tafel te sien, was al wat Ma ooit wou hê. Ons sal dit nooit vergeet nie. 

Die volgende woorde, gepen deur CJ Langenhoven, som Ma se lewe so mooi vir ons op en ons het dit gekies om op Ma se grafsteentjie te sit. Hy’t geskryf: “Deur twee dinge is my lewe vir my leefbaar gemaak; die liefde wat ek gegee het, en die liefde wat ek gekry het.”

Ma laat groot spore agter en ons hoop Ma het ons liefde net soveel beleef as wat ons Ma s’n het, en al is Ma nie meer hier nie, voel ons dit nog sterker as ooit. Die kleinste ou voetjies in ons familie is nou ‘n hele 44 daggies oud. Ek beloof om haar alles van ma te vertel. My gebed is dat daardie ou klein voetjies stewig sal trap in die paadjie wat haar Oumagrootjie vir haar, en die res van ons, uitgetrap het.

Ek hoop Ma’t lekker verjaar. Daai groot bos blomme wat daar Bo aangekom het was van ons almal.

En ek hoor my Ma se stem asof sy hier by my staan en sy sê sonder twyfel: “I love you more.”

Comments

  1. Love you my Oumatjie. R

    ReplyDelete
  2. Pragtig vriendin. Tannie Rita (my ander ma) het 'n hart soos 'n taxi gehad. Daar was altyd plek vir nog iemand.
    Sy sal nooit vergeet word nie.
    Julle almal is haar legacy.

    ReplyDelete

Post a Comment

Thank you so much for taking the time to chat - I appreciate your input!

Popular posts from this blog

A Special Smile

Can you hold space for someone?